KruisKidz
“Leer 'n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.”
- Spreuke 22:6
By Kruiskids glo ons dat ons nie net kinders moet besig hou nie, maar hulle moet lei om volgelinge van Jesus (dissipels) te word.
Ons visie is om elke kind wat aan ons toevertrou word, wedergebore en Geesvervuld terug te stuur na die wêreld. Ons begeerte is dat hulle van kleins af God se stem sal leer ken en Sy wil sal uitleef.
Ons hart is om kinders in die weë van God te leer sodat hulle:
• Op ‘n jong ouderdom die waarheid kan ken en aanvaar,
• Die pad van heiligmaking kan stap,
• En die lig van Christus in hul gemeenskappe kan versprei.
By Kruiskids bou ons aan die toekoms deur kinders op die vaste fondament van God se Woord te lei.
Kleuterkerk
Die Kleuterkerk is spesiaal ontwerp vir kinders tussen 3-6 jaar. Tydens die diens geniet die kleingoed lekker speeltyd en aanbidding saam met hul medegelowiges.
Die lessies en handwerkaktiwiteite is sorgvuldig aangepas vir hul ouderdomsgroep en help om belangrike Bybelse beginsels op 'n prettige en praktiese manier vas te lê.
Kom wees deel van hierdie vreugdevolle geleentheid waar kinders van kleins af die liefde van Jesus ontdek en beleef!
Kinderkerk
Die Kinderkerk is spesiaal vir leerders van graad 1-7.
Met oulike grasmatte wat die kinders volgens hul grade saambondel, begin die oggend met interaktiewe groepbesprekings en Jesus-gesentreerde gesprekke. Hierna vul die lokaal met vrolike stemme tydens energieke aanbidding.
Tannie Sania is altyd gereed met ‘n kreatiewe en insiggewende les wat die kinders meer leer oor Jesus en Sy Koninkryk.
Handwerk en buitespeel is hoogtepunte van Kinderkerk, waar maats aangemoedig word om saam te werk en mekaar te help, terwyl hulle pret het en leer hoe om die liefde van Jesus prakties uit te leef.
Kom wees deel van hierdie spesiale reis waar kinders nie net leer nie, maar ook groei as dissipels van Christus!
Playroom
Die Playroom is oop vir alle maatjies onder 3 jaar oud. Hierdie ruimte bied ouers die geleentheid om saam met hul kinders te speel, terwyl hulle steeds deel kan wees van die diens.
In 2025 het ons ook begin met interaktiewe lesse vir maatjies tussen 1 en 2 jaar oud in die Upperroom. Hier lei ‘n herder ‘n kort en eenvoudige les, waar die kleingoed meer van Jesus leer deur pret en kreatiewe handwerkaktiwiteite.
Kom ontdek hierdie spesiale ruimte waar jong kinders liefdevol bekendgestel word aan God se hart, en ouers gemaklik kan aanbid terwyl hulle hul kleingoed koester.
Aanddiens
Tydens die aanddiens kom kinders van 3-13 jaar oud saam vir ‘n gemeenskaplike diens wat oorvloei van die liefde en teenwoordigheid van Jesus.
Die aandprogram is gestruktureerd sodat dit vir jong en ouer kinders gelyktydig ‘n seën is. Die verloop van die aanddiens is soortgelyk aan die oggenddiens:
Die kinders geniet tyd om lekker saam te speel, Neem deel aan aanbidding, Luister na ‘n les wat spesiaal geskep is om hulle meer oor Jesus te leer, en sluit die aand af met ‘n handwerkaktiwiteit wat die dag se tema prakties saamvat.
Kom wees deel van hierdie unieke aand, waar kinders geestelik bou en saam hul geloof verdiep.